Vandag wil ek ietsie met my Afrikaanse vriende deel - ek gaan vir julle die patroon gee van 'n kortmou truitjie vir 'n pasgebore (newborn) baba. Ek brei dit met hekelgare en dit is nogal 'n gewilde baadjie by reborn artists (die mense wat die reborn poppe maak soos op my blog foto). Geniet dit en indien daar enige iets is wat jy nie verstaan nie, voel dan vry om te vra!
Ek gee slegs die BAADJIE se patroon:
KORTMOU BAADJIE VIR 'N PASGEBORE BABA
Jy het nodig: No. 5 hekelgare; 2.50mm (ou no 12) breipenne; stekehouers
Afkortings: ste = steke; aw = aweregs; r = regs; rek = reksteek (elke ry regs); beg = begin; pat = patroon; ks = koussteek (1 ry regs, 1 ry aweregs);
AGTERPANT:
Stel 60 ste op met 2.50mm breipenne.
Brei 10 rye rek.
*Brei 6 rye ks, beg met 'n aw ry.
Brei 4 rye rek.*
Hierdie 10 rye vorm die patroon.
Herhaal vanaf * tot * nog 4 keer = patroon dan 5 keer gebrei.
UITHOL:
Brei patroon korrek en heg 3 ste af aan die beg van die volgende 2 rye.
Brei patroon korrek en brei 2 ste saam aan die beg van die volgende 4 rye = 50ste.
Brei verder reguit sonder verminderings totdat die patroon 4 keer gebrei is vanaf die uithol.
Brei die eerste 6 rye van die patroon.
Heg 13 steke af, brei ry deur.
Herg 13 steke af, brei ry deur.
Sit die res van die steke wat op die breipen oor is, op 'n stekehouer en laat eenkant.
VOORPANTE:
Stel 30 ste op.
Brei 10 rye rek.
Brei die patroon soos vir die agterpant vanaf * tot * 5 keer.
UITHOL:
Heg 3 ste af aan die begin van jou volgende ry en brei ry deur.
Brei 1 ry patroon (sonder om minder te maak).
Brei 2 ste saam aan begin van volgende ry, en brei die ry deur.
Brei 2 ste saam aan die einde van die volgende ry, en brei die ry deur.
Brei verder reguit en hou die patroon korrek totdat 3 patrone voltooi is vanaf die uithol.
NEK:
Brei 1 ry aw.
Heg 5 ste af aan begin van volgende ry en brei ry deur.
Hou die patroon korrek en brei 2 ste tesame elke 2de ry aan die nekkant totdat die uithol so lank soos die agterpant s'n is - 13 ste bly oor.
Heg die steke af. (moenie dit op 'n stekehouer sit nie - heg dit af).
Brei die tweede voorpant dieselfde maar met die fatsoenering van die uithol en die nek omgekeerd - dit moet aan die teenoorgestelde kant as die eerste voorpant s'n wees.
MOUE:
Stel 45 ste op.
Brei 10 rye rek.
Brei in patroonsteek soos vir die agterpant en vermeerder 1 steek aan ELKE KANT van die breiwerk, elke 4de ry totdat jy 59 ste op die breipen het = 2x patroonrye + die eerste 6 rye.
Heg die steke af.
Brei die ander moutjie dieselfde.
KANTSTROKIES: (Brei 2)
Stel 15 ste op.
Glip elke 1e steek van elke ry (moenie die eerste steek brei nie, glip net oor op die breipen).
Brei 105 rye rek.
Sit die steke op 'n stekehouer.
KRAAG:
DIE KRAAG WORD IN REK GEBREI.
Die kraag word nou aan die voorpante agterpant en strokies vasgebrei soos volg:
1. R oor die steke van een van die strokies, Tel nou 18 ste op by die nekkant van die Regter voorpant (aan die Regterkant - die Regterkant moet na jou toe wys), brei oor die steke van die Agterpant, Tel nou weer 18 steke op by die nek van die Linker voorpant, net soos wat jy by die Regtervoorpant gedoen het, brei oor die steke van die tweede strokie.
2. Heg 6 ste af aan die begin van die ry, en r ry deur.
3. Heg 6 ste af aan die begin van die ry, en r ry deur.
4 - 10. Brei nou 7 rye rek, en onthou om elke 1e st van die ry te glip.
11. Maak 1 st meer in die eerste st van die ry, brei tot laatst st en maak 1 steek meer in die laaste st.
12 - 13. Brei 2 rye rek sonder om meer te maak.
14. Herhaal ry 11.
15-16. Brei 2 rye rek sonder om meer te maak.
17. Herhaal ry 11.
18-19. Brei 2 rye rek sonder om meer te maak.
20-22. Brei rek.
Heg al die steke af.
AFWERKING:
1. Werk die synate toe.
2. Werk die skouernate toe.
3. Werk die moue toe.
4. Werk die moue in die mousgat openinge in.
5. Werk die strokies aan die voorpante vas.
6. Werk alle los draadjies weg.
7. Werk versierings aan soos wat jy verkies.
No comments:
Post a Comment